Heg my. Ek is ongeneeslik. Droewig maar gewillig om myself op te hang om te droog - in jou koel, droë briesie wat soos gal jou mond uitwaai. Jou samesang van verlange wat saans oor my aamborstig streel laat my verward. Kommin, verwaand en soms deurmekruis.
Dronk, en selfsug kom kruisbeen hier en haarself langs my neerplons in afwagting vir my om opeens die laaste van my kanse te verbeur, te verbrou soos die brak gras wat bees se kind saans onder die sterrehemel lê en herkou gal bitter, maar sluk sal ek sluk. Als is dog nie tot niet, ek is my eie.
Dag skuwelik - streel ek n pittige woordjie my kant toe. Terwyl my kneukels wit oor die wasbak se rand strek, voel ek die punt van my vingers klop soos die been-agter-vleis wil-wil deurbreek. Ek staar diep in my oë opsoek na redelose redekawel van toet en tye, gister se drome en môre se demone.
Saam sal onse mens onder toe neuk.
Met ses van my vyf vingers om n glasie vergewe, verlustig ek myself aan stommerik en sy trawante breindood sou ek eerder sê. Sulke luidrugtige dommes sal tot vervelens toe sanik oor allerlei kak vanaf hul vyftien-man-manewales tot masturbasie op n parkiebankie , die skurwe nonsens laat my bloedrooi, en skaam sak ek eerder my kop, knyp my hoof styf vas tussen my duim en middelvinger en werk die dan stadig teen my gesig af tot waar ek my keel raak druk. Te veel hardewater saam met n dwelm en ek sê Sproetjies, liefling, daar's 'n duiwel in my hart... Maar terdeë, ek wens my lewe wil eindig al dan nie, steek my eerder in die diepste donker van die nag.
Te pletter en ek bieg - alkohol laat my sintuie oorwerk en ek voel hoe die mensdom se oë my deurboor, ek voel hoe hul tonge my vel oopkloof en vir die Dood los. Ja, die man in vodde wat saans op ons stoepe kom baljaar en met sy grillerige lang vingers teen ons ruite kap, tartend soek hy ons siele uit een vir een. Tel jou seëninge. Toets jou bloeddruk. Want netnou-netnou as jou oë toeval, stuur ek n geritsel deur jou verswakte are en bars jou hart soos n ou ballon.
Die jir weet alleen! Hoe smag ek om my naels tot op die gatkant van skedel te plant, sonder huiwer der oog uit te krap, sy kop terug te gooi en diep sy gedagtes in te staar na sy verlate gedagtes van toet en tyd...
Die jir weet alleen.
Liefs nie troebadoer, liefs nie - haar oulike kortgekapte pakkie treiter my wyn deurdrenkte oë en ek swoeg nader, ontmoet haar harde lippe en snak skoon toe haar spookasem my neus tref die reuk van aangeplakte Red Door en goedkoop sigarette laat vaar my vuil gedagtes, en ek vlieg terug in verbasing met n hoofletter Wat de Vok . Haar naam was stil swye. Sy was kom en gaan, die eerbare tipe wat jy eerder self teen die muur van miskien vasspyker en daarvan vergeet. Eks n oukei girl neurie sy . Ek is seker sy is, of was. Ek is net versigtig want goggas byt, almal weet dit. Haar goggas mag dalk net dood. Ek wuif sku n nee dankie haar rigting in, en kort voor lank het sy my met wilde oë tot dood veroordeel.
Soms wonder ek of iemand my nie net in die yskas vergeet het nie of ek moontlik nie net dwaal in my eie waansin nie. Alleen loop in n plek soos ons eie opgeskote hel. Want ek huil. Ek skree soos n maer vark met n machete diep in sy keel gebêre, maar niemand neem notisie nie niemand hoor haar huil nie, niemand hoor die vuishoue klap nie - want niemand gee n vok om nie.
Met die ontnugtering swaai ek bloedkeels om en weereens staar ek myself aan in n vuil spieël. Koue druppels vorm soos pêrels teen my voorkop.
Seg my eerbare, wat is nou tuis beter as om in die vars reuk van urine in die arms van jou geliefde te lê? Wat is nou tog beter as om die yster smaak van vars bloed te proe nadat jy jou lip te pletter gekou het? Wat die donner sal ooit beter as dit wees? Wat is tog beter as die geskree van jou nagtegaal, wat jou straks aangluur met ongoddelike oë van swart en gloeiende kole reguit uit jou hel? Wat die vok sal beter wees?
Met dié, skrik ek wakker langs n pikswart rivier wat galbitter my neus laat brand die suur reuk van teer terg my diep, my diepste gees word getart...
n Ongeagtige eweknie spaar my die moeite en spring voor aankomende verkeer in - en in fynste grynslag op knipoog afstand, bars sy skedel oop teen die linkerkantste voorlig van Medusa se vierwielaangedrewe monster. In die split sekonde verduister my denke, en voor my onheilige siel hoor ek die sagte borrel geluid uit n holte in sy hoof, waar daar eens n denkende mens was, is daar nou niks. Streel my, dink ek. Stilweg maar nietemin dink ek daaraan, of ek nou wil of nie. Of ek nou alleen wil vertoef tot die dood my kom haal of der halwe nie graag sal ek ook gestreel wil word. In stil genade dood soos n liewe moeder haar kind versmoor, wil ek ook so tussen haar buuste rus, daar waar niks seer, of pla nie.
Heg my. Ek is ongeneeslik. Droewig maar gewillig om myself op te hang om te droog in jou nagmerrie waar ek saans met my swart vlerke aan die diamant-tiet soog.
. . -. | -.. .-. .- -.-. .... - | -- .- .- -.- - | -- .- -.-. ....
©